Monday, July 9, 2012

Storieverhaal-kaart 1: Jesus IS die Messias!



In die Storieverhaalkaarte, is die verhale in die boeke van Mattheus, Markus, Lukas en Johannes, bymekaargebring - ekstra inligting is bygevoeg en flitskaarte uit die "Het jy geweet..."-boekie is ingesluit:  (gaan na die "Het jy geweet - page" om nog inligting te versamel).  (Die storieverhale, kan gebruik word vir voorlesing en lesaanbieding in konteksverband.)(Dit is nog nie in boekvorm beskikbaar nie, maar voel vry om die blogposts af te druk).
  • Storieverhaal-kaart 1:  Jesus IS die Messias! (dit vertel van die geboorte en opgroei van Jesus Christus asook Johannes die Doper en gee veral aandag aan gebeurtenisse en profesiee wat as bewyse gedien het 
dat Jesus Christus die Messias is
  • - bedoel vir 9 - 12 jariges, alhoewel dit in beprekingsvorm gebruik kan word vir tot 15 jariges (vrae wat dan gevra word, is bv.:  "Hoe weet ons Jesus was regtig die Messias?" ; of  "Watter bewyse vind ons in die Bybel dat Jesus die Messias is? ens.)----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Storieverhaal-kaart 1:  JESUS IS DIE MESSIAS
Sowat 8oo jaar voor Jesus Christus gebore is, het daar 'n man gelewe met die naam van Jesaja.  Jesaja was 'n profeet en een van die magtigste profete in die geskiedenis.  


Reeds soveel eeue voor Christus se geboorte, het Jesaja geprofeteer van Jesus se koms.  Die profete het somtyds beeldspraak gebruik, bv. Jesaja praat op een plek van Jesus as die "takkie";  op 'n ander plek noem hy Hom, die "kneg van die Here".  Die Joodse skrifgeleerdes het hierdie beeldspraak verstaan, die profesiee goed geken en lank gewag vir die Messias.  Hulle het ook geweet van waar Hy sou kom, want so het die profeet, Miga,wat ook iewers in die 8 ste eeu v.C. gelewe het, geprofeteer dat Jesus uit Betlehem in Judéa sou kom. Hy het o.a.  gese dat Jesus 'n groot koning sou wees vir die volk en uit die geslag van Dawid sal wees, net soos Jesaja ook geprofeteer het dat Hy uit die "stam van Dawid" sou wees.  

MAAR WAS JESUS GEBORE UIT DIE STAM VAN DAWID?  
-Kom ons lees in Matt.1:1-17.  

EN HET HY GEKOM UIT BETLEHEM IN JUDEA?
-Kom ons lees in Matt. 2:1-6. 


Dus, net soos die profete voorspel het, is Jesus gebore in "Betlehem in Judea" 
en "uit die stam van Dawid". 

 Soos dan bewys in Matt. 2, was die owerpriesters en skrifgeleerdes bewus gewees van waar Jesus gebore sou word.  Vir 800 jaar het hulle vir Hom gewag. Hulle het ook die profetiese woorde mooi bewaar oor al die eeue en het dit gedurig voorgelees in die sinagoges en presies geweet wat geprofeteer was. 

Koning Herodus was nie van Joodse afkoms nie.  Volgens geskiedenis is hy deur Julius Caesar as goewerneur van Juda aangestel.  Die Jode het niks van hom gehou nie en hy het mense sommer maklik doodgemaak vir enige rede.  So het hy bedreig gevoel toe die wyse manne kom om Jesus te aanbid, siende Jesus volgens profesiee, die koning van die Jode sou wees; daarom het hy probeer om vir Jesus dood te maak.


Soos ons die verhaal lees van Jesus se geboorte, sal ons merk dat, buiten die profesiee, daar heelwat ander tekens was wat bevestig het dat Jesus Christus, die Messias is. Onder andere was daar "Johannes die Doper" -  die skrif noem hom "die man wat van God gestuur is" en wat self getuig het dat Jesus die Messias is.  Hy sou die pad regmaak vir die Messias sodat almal deur hom sou glo.  Deur Johannes die Doper het baie mense tot geloof gekom. Van hom het die profeet "Jesaja", geprofeteer:   
(Jes. 40:3)  "die stem van een wat roep in die woestyn: Maak die pad van die Here reguit!".  
----------------------------------------------------

(Die volgende kan soos 'n verhaal voorgelees word en gaan oor)
Die geboorte van Jesus Christus asook Johannes die Doper, volgens die boeke van "Mattheus", "Markus", "Lukas" en "Johannes"
 -(die onderstaande gebeure is nie noodwendig in volgorde nie) :

In die dae toe Herodes koning was van Judéa, was daar‘n sekere priester met die naam van Sagaría. Sy vrou se naam was Elisabet.  Sagaria en Elisabet was altwee regverdig voor God en gehoorsaam aan Hom, maar hulle het geen kinders gehad nie en hulle was al oud.   As priester, moes Sagaria spesifieke ampte uitvoer.  Eendag was hy besig om sy priesteramp voor God te bedien, toe die lot op hom val om in te gaan in die tempel van die Here en die reukwerk te brand.  Die hele menigte van die volk was buite, besig om te bid op die uur van die reukoffer. 
(Lees hieronder meer omtrent die priesters en die reukoffer en/of gebruik as flitskaarte)




Terwyl Sagaria die reukoffer bring in die tempel en die volk vir hom buite staan en wag, verskyn daar aan hom ‘n engel van die Here, wat aan die regterkant van die reukofferaltaar staan.   En toe Sagaría hom sien, was hy ontsteld, en hy het bang geword, maar die engel sê vir hom:  "Moenie vrees nie, Sagaría, want jou gebed is verhoor, en jou vrou Elisabet sal vir jou ‘n seun baar, en jy moet hom Johannes noem. En hy sal blydskap en verheuging vir jou wees, en baie sal oor sy geboorte bly wees; want hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af.  En hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God. En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here ‘n toegeruste volk te berei".

 Toe sê Sagaría vir die engel: "Waaraan sal ek dit weet? Want ek is ‘n ou man, en my vrou is op ver gevorderde leeftyd".  En die engel antwoord: "Ek is Gabriël wat voor God staan, en ek is gestuur om met jou te spreek en jou hierdie goeie tyding te bring.  En kyk, jy sal swyg en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde wat op hulle tyd vervul sal word, nie geglo het nie".

 En die volk het op Sagaría bly wag en was verwonderd dat hy so lank in die tempel vertoef.  Maar toe hy uitkom, kon hy met hulle nie praat nie; hulle bemerk toe dat hy ‘n gesig in die tempel gesien het. En hy het aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly.  En toe die dae van sy diens vervul was, het hy huis toe gegaan.


En ná hierdie dae het Elisabet, sy vrou, ontvang en haar vyf maande lank verberg. 



En in die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na ‘n stad in Galiléa met die naam van Násaret,
 na ‘n maagd wat verloof was aan ‘n man met die naam van Josef; en die naam van die maagd was Maria.  En die engel het by haar binnegekom en gesê: "Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue".  En toe sy hom sien, was sy baie ontsteld oor sy woord, en sy het daaroor nagedink wat hierdie groet tog kon beteken.  En die engel sê vir haar: "Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind.  En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem.  Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee,  en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie"

 Toe sê Maria vir die engel: "Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie?"

 En die engel antwoord en sê vir haar: "Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.  En kyk, Elisabet, jou bloedverwant, het self ook ‘n seun ontvang in haar ouderdom, en hierdie maand is die sesde vir haar wat onvrugbaar genoem is.  Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie".  En Maria sê: "Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord". En die engel het van haar weggegaan.  So het Maria gehoor van Elisabet, dat sy ook swanger was, want sy kon dit nie weet nie omdat Elisabet haarself vir 5 maande verberg het en Maria was self ook swanger bevind uit die Heilige Gees. Maar Josef, Maria se  man, was 'n regverdige man en onwillig om haar openbaar te maak, siende sy swanger was en hulle twee nog nie gemeenskap gehad het nie.  Josef het hom voorgeneem om in die geheim van haar te skei, maar terwyl hy dit in die gedagte gehad het, verskyn daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom en sê: "Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees;  en sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos. En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het:  Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons". 


  En toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gedoen soos die engel van die Here hom beveel het en sy vrou by hom geneem;
  en hy het haar nie beken totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie; en hy het Hom Jesus genoem.

En in daardie dae het Maria opgestaan en haastig na die bergstreek gegaan, na ‘n stad van Juda; en sy het in die huis van Sagaría gekom en Elisabet gegroet.  En toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in haar skoot opgespring; en Elisabet is vervul met die Heilige Gees  en het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot!  En wat het my oorgekom dat die moeder van my Here na my toe kom?   Want kyk, toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my skoot van vreugde opgespring.  En salig is sy wat geglo het, want die dinge wat deur die Here aan haar gesê is, sal vervul word. 

 En Maria het gesê: My siel maak die Here groot,  en my gees is verheug in God, my Saligmaker;  omdat Hy die nederige toestand van sy diensmaagd aangesien het; want kyk, van nou af sal al die geslagte my salig noem.  Want Hy wat magtig is, het groot dinge aan my gedoen, en heilig is sy Naam.
  En sy barmhartigheid is van geslag tot geslag vir die wat Hom vrees.  Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy verstrooi.  Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog.  Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met leë hande weggestuur.  Hy het sy kneg Israel bygestaan, sodat Hy aan sy barmhartigheid sou dink  soos Hy tot ons vaders gespreek het—aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid.  En Maria het by haar omtrent drie maande gebly; en sy het teruggegaan na haar huis toe.

En die tyd dat sy moeder moes word, is vir Elisabet vervul, en sy het ‘n seun gebaar.  En toe haar bure en bloedverwante hoor dat die Here sy barmhartigheid aan haar groot gemaak het, was hulle saam met haar bly.  En op die agtste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou hom Sagaría noem, na die naam van sy vader.  Toe antwoord sy moeder en sê: Nee, maar hy moet Johannes genoem word.  En hulle sê vir haar: Daar is niemand in jou familie wat dié naam het nie.  En hulle beduie vir sy vader hoe hy wou hê dat hy genoem moes word.  Hy vra toe ‘n skryfbordjie en skryf: Johannes is sy naam. En almal was verwonderd.  En onmiddellik is sy mond geopen en het sy tong losgeraak, en hy het gepraat en God geloof.
  En daar het vrees gekom oor almal wat rondom hulle gewoon het, en daar is baie gepraat oor al hierdie dinge in die hele bergstreek van Judéa.  En almal wat dit gehoor het, het dit ter harte geneem en gesê: Wat sal tog van hierdie kindjie word? En die hand van die Here was met hom.  En Sagaría, sy vader, is vervul met die Heilige Gees en het geprofeteer en gesê:  Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het,  en ‘n horing van heil vir ons opgerig het in die huis van Dawid, sy kneg—  soos Hy gespreek het deur die mond van sy heilige profete van ouds af—  redding van ons vyande en uit die hand van almal wat vir ons haat,  om barmhartigheid te bewys aan ons vaders en aan sy heilige verbond te dink,  aan die eed wat Hy gesweer het vir Abraham, ons vader, om aan ons te gee dat ons, verlos uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien,  in heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe. En jy, kindjie, sal ‘n profeet van die Allerhoogste genoem word, want jy sal voor die aangesig van die Here uitgaan om sy weë reg te maak;  om kennis van saligheid aan sy volk te gee in die vergifnis van hulle sondes,  deur die innige barmhartigheid van onse God waarmee die opgaande Lig uit die hoogte ons besoek het,  om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit, om ons voete na die pad van vrede te rig.

En in die dae toe daar bevel uitgegaan het van keiser Augustus dat die hele wêreld ingeskryf moes word,  het plaasgevind toe Cirénius goewerneur van Sírië was.  En almal het gegaan om ingeskryf te word, elkeen na sy eie stad.  En Josef het ook opgegaan van Galiléa, uit die stad Násaret, na Judéa, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was,  om hom te laat inskrywe saam met Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het, wat swanger was.  En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar;  en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.  En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het.  En meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig.  En die engel sê vir hulle: "Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees,  dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê".  En skielik was daar saam met die engel ‘n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê:  Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!  En toe die engele van hulle weggegaan het na die hemel, sê die herders vir mekaar: Laat ons dan na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat die Here aan ons bekend gemaak het.  En hulle het met haas gegaan en Maria en Josef gevind en die kindjie wat in die krip lê. En toe hulle dit gesien het, het hulle oral die woord bekend gemaak wat aan hulle van dié Kindjie vertel is.  En almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat deur die herders aan hulle vertel is;  maar Maria het al hierdie woorde bewaar en in haar hart oordink. En die herders het teruggegaan en God verheerlik en geprys oor alles wat hulle gehoor en gesien het, net soos aan hulle gesê is. So is Jesus te Betlehem in Judéa gebore, in die dae van koning Herodes.  Daar het ook in die dae  wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom  en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys.  En toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld en die hele Jerusalem saam met hom;  en hy het al die owerpriesters en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar laat kom en by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word.  En hulle het vir hom gesê: Te Betlehem in Judéa, want so is daar deur die profeet geskrywe:  En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal ‘n leidsman voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees.  Toe het Herodes die wyse manne in die geheim geroep en hulle na die tyd van die ster se verskyning uitgevra;  en hy het hulle na Betlehem gestuur en gesê: Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom vind, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en Hom hulde bewys.  En nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, gaan voor hulle uit totdat hy kom en bly staan bo-oor die plek waar die Kindjie was.  En toe hulle die ster sien, het hulle hul met baie groot blydskap verheug.  En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys. Daarop maak hulle hul skatte oop en bring vir Hom geskenke: goud en wierook en mirre. En omdat hulle in ‘n droom ‘n goddelike waarskuwing ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met ‘n ander pad na hul land teruggegaan. 


En toe agt dae vervul was, dat hulle die Kindjie sou besny, het Josef  Hom Jesus genoem, die naam wat deur die engel gegee is voor sy ontvangenis in die moederskoot. 
(Lees hieronder meer oor die besnydenis en/of gebruik as flitskaarte)



 En nadat die dae van haar reiniging volgens die wet van Moses vervul was, het hulle Hom na Jerusalem gebring om Hom aan die Here voor te stel,  soos geskrywe is in die wet van die Here: Elke manlike kind wat die moederskoot open, sal heilig vir die Here genoem word;  en om die offer te gee volgens wat gesê is in die wet van die Here: ‘n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.  En daar was ‘n man in Jerusalem met die naam van Símeon; en hierdie man was regverdig en vroom en het die vertroosting van Israel verwag, en die Heilige Gees was op hom.  En aan hom was dit deur die Heilige Gees geopenbaar dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Christus van die Here gesien het nie.  En hy het deur die Gees in die tempel gekom; en toe die ouers die Kindjie Jesus inbring om met Hom te handel volgens die gebruik van die wet,  het hy Hom in sy arms geneem en God geloof en gesê:  Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord,  omdat my oë u heil gesien het,  wat U berei het voor die oë van al die volke—  ‘n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel. En Josef en sy moeder het hulle verwonder oor die dinge wat van Hom gesê is.  En Símeon het hulle geseën en aan Maria, sy moeder, gesê: Kyk, hierdie Kind is bestemd tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel en tot ‘n teken wat weerspreek sal word—  ja, ‘n swaard sal deur jou eie siel gaan—sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word. En daar was Anna, ‘n profetes, die dogter van Fánuel, uit die stam van Aser. Sy was op baie ver gevorderde leeftyd en het van haar maagdom af sewe jaar lank met haar man saamgelewe;  en sy was ‘n weduwee van omtrent vier en tagtig jaar. Sy het nie weggebly van die tempel nie, en met vaste en gebede God gedien, nag en dag.  En sy het in dieselfde uur daar gekom en die Here geprys en van Hom gespreek met almal in Jerusalem wat die verlossing verwag het.  En toe hulle alles volbring het wat volgens die wet van die Here was, het hulle teruggegaan na Galiléa, na hulle stad Násaret.  

 En toe hulle teruggegaan het, verskyn daar ‘n engel van die HERE in ‘n droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak.  Hy het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek.  En hy was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my Seun geroep.  

Toe Herodes sien dat hy deur die wyse manne mislei was, het hy baie woedend geword en gestuur en in Betlehem en in al die omstreke daarvan al die seuntjies van twee jaar en daaronder laat ombring, ooreenkomstig die tyd wat hy van die wyse manne uitgevra het.  Toe is vervul wat deur Jeremia, die profeet, gespreek is toe hy gesê het:  ‘n Stem is in Rama gehoor: rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie.  En ná die dood van Herodes het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef in Egipte verskyn  en gesê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder, en gaan na die land van Israel; want hulle is dood wat die lewe van die Kindjie gesoek het.  En hy het opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en in die land van Israel gekom.  Maar toe hy hoor dat Archeláüs oor Judéa koning was in die plek van sy vader Herodes, was hy bevrees om daarheen te gaan. En hy het ‘n goddelike waarskuwing in ‘n droom ontvang en na die streke van Galiléa teruggekeer.  En hy het gaan woon in ‘n stad met die naam van Násaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasaréner genoem sou word.  En die Kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees en vol van wysheid. En die genade van God was op Hom.

----------------------------------------------------------



VIR BESPREKING:
TEKENS of  BEWYSE,  
"JESUS CHRISTUS  IS DIE MESSIAS:


*  Jesus was uit die geslag van Dawid, asook in Betlehem gebore, soos die profete voorspel het 
(Matt. 1:1-17;  Matt. 2:1-6; Miga 5:2; Jer. 23:5)

* Die boek "Lukas" was geskryf om te bewys dat Jesus die Messias is;  so ook  die boek van "Johannes" 
(Luk. 1:1-4; Joh. 20:31) 


*  Johannes die Doper (Die engel wat aan Sagaria verskyn het, het bevestig dat Johannes "voor Jesus sou uitgaan.." - dit klop met die woorde van wat van Johannes gese word in die profetiese boeke).   Die woorde van die engel was ook bevestig deur Sagaria se stomheid en Johannes se naam.
( Mark. 1:2,3; Mal. 3:1; Matt. 11:10; Luk.1:15-17; Luk. 1:76; Luk. 7:27,28)

*  Die engel het aan Sagaria verskyn en bevestig dat Johannes voor die Here sou uitgaan en vir Hom 'n toegeruste volk sou berei
(Luk. 1:8-22; Luk. 1:57-80)

*  'n Engel het aan Maria verskyn en haar meegedeel dat sy swanger sou word - die engel het in soveel woorde gese dat die kind "seun van God" genoem word, asook Hom genoem "die Seun van die Allerhoogste - ook dat Hy koning sou wees, (net soos die profete voorspel het).  Die engel het die waarheid gepraat, want dit is bevestig toe hy haar ook vertel van Elisabet wat swanger was, iets wat niemand eintlik geweet het nie, omdat Elisabet haarself verberg het vir 5 maande - toe Maria na Elisabet gaan, was dit net soos die engel gese het.
(Luk. 1:24; Luk. 1:26-40)

*  Elisabet, vervul met die Heilige Gees toe die kindjie in haar maag spring toe sy Maria sien, het ook bevestig dat Jesus die seun van God is: "En wat het my oorgekom dat die moeder van my Here na my toe kom?" 
(Luk. 1:39-56)

* Die engel van die Here het ook aan Josef verskyn in 'n droom en bevestig dat sy swanger geraak het UIT DIE HEILIGE GEES.  Die engel bevestig ook Jesus se naam en dat Hy die een is wat die volk van hulle sondes sal verlos.  Dit stem ook ooreen met die woorde van die profeet: "Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons". Dit was dus eeue voor dit voorspel dat " 'n maagd swanger sal raak" - iets wat tog andersins onmoontlik is!
(Matt. 1:20-25; Matt. 2:19-23)

*  Die engel wat aan die herders in die veld verskyn het en hulle gestuur het met 'n teken: "Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees,  dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê".
(Luk. 2:8-20)

*  Die wyse manne wat Sy ster in die ooste gesien het en ook bevestig het dat "die koning van die Jode" gebore is - kyk ook hoe die ster voor hulle uitgegaan het en bly staan het waar die kindjie was - kyk ook hoe God hulle in 'n droom 'n waarskuwing gegee het dat hulle nie moet teruggaan na Herodus toe nie.
(Matt. 2:1-12)

* Die man Símeon, 'n  regverdige en vroom man - aan hom is deur die Heilige Gees geopenbaar dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Christus van die Here gesien het nie.
(Luk. 2:25-35)

*  Kyk ook die profetes, Anna.
(Luk. 2:36-38)

*  God het gesorg dat Jesus veilig bly en het die wyse manne in 'n droom gewaarsku om nie terug te gaan na Herodus toe nie;  Hy het Josef in 'n droom gewaarsku om na Egipte te gaan en na Herodus se dood weer in 'n droom gewys dat hulle kon teruggaan.
( * Matt. 2:17,18- die profeet Jeremia het geprofeteer van hoe die kinders doodgemaak sal word - Jer. 31:15)


-------------------------------------------------
(Jes. 9:6)  (9:5) "Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—". 
-------------------------------------------------

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.