Monday, November 19, 2012

Storieverhaal-kaart 3: Jesus Christus is Koning!


In die storieverhaal-kaarte, is die verhale in die boeke van Mattheus, Markus, Lukas en Johannes, bymekaargebring - ekstra inligting is bygevoeg en flitskaarte uit die "Het jy geweet..."-boekie is ingesluit:  (gaan na die "Het jy geweet - page" om nog inligting te versamel)..  (Die storieverhale, kan gebruik word vir voorlesing en lesaanbieding in konteksverband)

  • Storieverhaal-kaart 3:  JESUS CHRISTUS IS KONING!  (dit vertel die verhaal van Jesus Christus, die Seun van God, wat mens geword het, onder die mens kom woon het, die Een van wie geprofeteer is dat Hy koning sou wees, maar ook doodgemaak sou word, opstaan uit die dood en aan die regterhand van God sou gaan sit)
  • - bedoel vir 9 - 12 jariges, alhoewel dit in beprekingsvorm gebruik kan word vir tot 15 jariges (vrae wat dan gevra word, is bv.:  "Hoe sal ons onderskei tussen die ware Messias, Jesus Christus en die antichris, siende daar ook van die Antichris gese is dat hy sal regeer oor die hele aarde?"  of "Hoekom het die Jode Jesus  "seun van Dawid" genoem?"  ens.)
-----------------------------------------------------------


Storieverhaalkaart 3: "Jesus Christus is Koning" 


(Mat 5:34)  "Maar Ek sê vir julle: Sweer hoegenaamd nie—nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is;
  (Mat 5:35)  ook nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank van sy voete is; ook nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad is van die groot Koning"

(Jes. 33:22)  "Want die HERE is ons Regter, die HERE is ons Aanvoerder, die HERE is ons Koning: Hy sal ons verlos".

(Lees Luk. 4:16-20) - Toe Jesus  "in Násaret aankom, die plek waar Hy opgevoed was; het Hy, soos Hy gewoond was, op die sabbatdag in die sinagoge gegaan en opgestaan om te lees. En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig".   (Op daardie stadium het hulle nog nie die Bybel gehad soos ons dit ken nie, maar hulle het omtrent al die Ou Testamentiese boeke gehad en gebruik.  Dele is op Sabbatdag voorgelees in die sinagoges op daardie dag is die boek van die profeet Jesaja aan Jesus oorhandig.  Die boek "Jesaja" is een van die magtigste profetiese boeke in die Ou Testament.  Die profeet, Jesaja, het sowat 800 jaar voor Christus gebore is, gelewe, en het meer as 40 jaar geprofeteer).  
(Kom ons lees verder in Luk. 4):
Toe Jesus die boek (van Jesaja) oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is:
"Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees;  om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig."  En nadat Hy die boek toegemaak en aan die dienaar teruggegee het, gaan Hy sit, en die oë van almal in die sinagoge was op Hom gevestig.
  Toe begin Hy vir hulle te sê: "Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul".

Wanneer ons self in die boek van Jesaja gaan lees die skrifgedeeltes wat Jesus hier aangehaal het (Jes. 61:1,2), dan sal ons merk dat Hy opgehou lees het voor die volgende woorde:  (Jes. 61:2 -  om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die HERE "en ‘n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos").  Dit is duidelik dat daardie "dag van wraak van onse God", en "om al die treurendes te troos", nog nie aangebreek het nie.  As Hy dit ook gelees het, met die woorde wat Hy vir hulle gese het, "vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul", dan sou dit nie sin maak nie, want dit is slegs tot waar Hy gelees het, wat dit vervul is.  Die dag van wraak, word vir ons beskryf in verskeie OT skrifte en in die boek van Openbaring, as die dag wanneer die Here kom (terugkom). 
Met die Wederkoms, sien ons die aanvang van die 1000-jarige Vrederyk waarin Jesus Christus die Here, Koning sal wees oor die hele aarde.  


In die evangelies lees ons hoe verskeie mense vir Jesus die "Seun van Dawid" genoem het.  * (ky bv. Mat 9:27 - "En toe Jesus daarvandaan verder gaan, het twee blindes Hom gevolg, terwyl hulle uitroep en sê: Wees ons barmhartig, Seun van Dawid!") * (en Matt 12:23 - " En die hele menigte was verbaas en het gesê: Is Hy nie miskien die seun van Dawid nie?") * (en Matt 15:22 - " En ‘n Kananése vrou het van daardie gebied gekom en na Hom geroep en gesê: Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid! My dogter is erg van die duiwel besete").    
- Maar hoekom het hulle Hom die "Seun van Dawid" genoem?

Die antwoord kan verkry word uit die Ou Testamentiese profesiee.  Vir baie eeue het die Jode uitgesien na die Messias wat gebore sou word - hierdie is deur die profete voorspel.   Een van die tekens was dat Hy uit die geslag van Dawid gebore sou word. ( Daar was natuurlik ook heelwat ander tekens bv. dat Hy in Betlehem gebore sou word..ens. - al hierdie tekens saam sou inderdaad vervulling van profesie wees!).  Dit is dan ook waarom die boek Mattheus begin met 'n geslagsregister - dit was om te verduidelik dat Jesus Christus inderdaad uit die nageslag van Dawid gebore was;  daarom dan dat die mense Hom genoem het, "Seun van Dawid".   Daar was baie dinge oor hom gese in die profetiese boeke wat vir hulle 'n goeie aanduiding sou wees sodat hulle hom maklik kon erken (kyk bv. Jes. 29; 42 ens.).  Toe Johannes sy dissipels stuur om seker te maak of  Jesus die een is wat sou kom, was Sy antwoord:  (Mat 11:4-6 -  "...Gaan vertel aan Johannes wat julle hoor en sien: blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig. En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie")(ook. Luk. 7:22).  Hierdie antwoord van Jesus was juis 'n bewys van iets wat geprofeteer was oor Hom eeue terug.  In die vorige twee storieverhaalkaarte, is daar heelwat bewyse van hierdie vervulde profesiee. (sien ook onderaan 'n lys hiervan)

 Matt 1:1  -  "Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham.....").  
Wanneer die skrif praat van "seun van Dawid, seun van Abraham", dan verwys dit na geslagte:  Dawid is gebore uit die geslag van Abraham en Jesus is gebore uit die geslag van Dawid. 
Maar wie sou hierdie Messias wees?  Hoekom sou die Here Hom stuur?
Wat het die profete gese oor die Messias?  Wat die volk veral verstaan het, was dat Hy die land sou herstel en die volk sou red van hulle vyande.  Hy sou Koning wees.  Inteendeel, een skrif se dat Hy die Koning sal wees van die hele aarde! (Sag. 14:9)   
Deur Hom die "seun van Dawid" te noem, het hulle eintlik verklaar dat hulle Hom erken het as die Een op wie hulle gewag het, die Koning van die Jode!
(Luk 2:11)  "dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is".    

 (Mat 21:5 - "... Kyk, jou Koning kom na jou toe, sagmoedig, en Hy sit op ‘n esel, ja, ‘n jong esel, die vul van ‘n pakdier");(Mig. 5:2)  (5:1) "En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid").  

Die Jode het verwag dat hierdie Messias wat gebore sou word uit die stam van Dawid, Koning sou wees.  Dit was lank deur die profete voorspel.  Die vraag van die wyse manne het dit bevestig in Mat 2:1,2 - "En toe Jesus te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom en gesê: WAAR IS DIE KONING VAN DIE JODE, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys".  Die owerpriesters en skrifgeleerdes het hierdie feit bevestig deurdat hulle koning Herodus geantwoord het op sy vraag oor waar die Christus gebore sou word:  Mat 2:5 - "...Te Betlehem in Judéa, want so is daar deur die profeet geskrywe" - daarna het hulle die woorde aangehaal  van die profeet:  Mat 2:6 - "En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal ‘n leidsman voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees" - hulle het goed verstaan dat Hy vir hulle 'n herder sou wees.  Kyk ook na die intog in Jerusalem:  -Luk 19:37,38 - "En toe Hy al naby die afdraand van die Olyfberg kom, begin die hele menigte dissipels God met blydskap te prys met ‘n groot stem oor al die kragtige dade wat hulle gesien het, terwyl hulle sê: Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here, vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele!  Die engel het ook hierdie feit bevestig aan Maria in Luk 1:33 - "en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie".  Dit is dan ook om hierdie selfde rede waarom die skrifgeleerdes en Fariseers  Hom oorgegee het om gekruisig te word, want hulle wou Hom nie as Koning aanvaar nie.  


http://warechristene.blogspot.co.nz/2015/03/die-koninklike-geslag-uit-die-stam-van.html

 Jesus sou as koning regeer en die land herstel en die volk versamel:  (Jer 23:5)  "Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land.
(Jer 23:6)  In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID". Terwyl die skrifgedeeltes net dele van die profesiee oor die Messias uitlig, beteken dit nie dat ons die ander skrifte net eevoudig moet ignoreer nie,  bv. die profesiee oor hoe Hy sou sterf vir ons oortredinge, of die profesiee oor hoe Hy "aan die regterhand van God" sal gaan sit.  Net so is daar oor die Messias geprofeteer dat "'n maagd sou swanger word en 'n Seun baar...", maar op 'n ander plek oor hoe Hy met die wolke sal kom - wat sou dit wees, dat Hy gebore sou word of met die wolke kom?  Dit is dus duidelik dat beide profesiee in ag geneem moet word en dat daar selfs oor Jesus se wederkoms geprofeteer was, nie net oor Sy geboorte nie!   
(Amo 9:11)  In dié dag sal Ek die vervalle hut van Dawid weer oprig, en Ek sal sy skeure toebou en sy puinhope herstel, en Ek sal dit opbou soos in die ou tyd...

Hierdie Messias, Seun van God, Here, wat gekom het en gesterf het vir ons sonde, opgestaan het uit die dood, wat nou sit aan die regterhand van God die Vader, sal terugkom: 
(Jes. 40:10)  Kyk, die Here HERE sal kom as ‘n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig.

Dus, as JESUS CHRISTUS die Messias is op wie hulle gewag het vir soveel eeue, dan het dit ook beteken dat Hy uiteindelik  KONING sou wees van die hele aarde, maar hierdie is nie al rede waarom die Messias gekom het nie, maar daar is ook heelwat ander profesiee wat vervul moes word, bv. dat Hy vir ons sondes moes sterf en aan die regterhand van God sou gaan sit...  Hierdie dinge was ook lank voor die tyd geprofeteer, maar die skrifgeleerdes en Fariseers het nie veel ag gegee hierop nie.  Selfs Jesus se dissipels het dit nie so mooi verstaan nie. Voor Sy opvaarding het Hy seker gemaak dat hulle die dinge verstaan - (Luk. 24:45).  Hierdie dinge is aan die eerste gemeentes goed verduidelik.  So het baie Jode tot bekering gekom, deurdat hulle die OT profesiee behoorlik onderskei het.  Niemand het eintlik besef dat dit so lank gaan neem voor Jesus Christus as Koning terugkom nie - dit kan ons verstaan wanneer ons kyk na sekere vrae wat hulle vir Hom gevra het (kyk na verhaalkaart 2 vir meer inligting hieroor).  In hierdie verhaalkaart gaan ons spesifiek aandag gee aan "Jesus as Koning en wat Hy vertel het van Sy koninkryk". 

Wanneer Jesus terugkom, sal Hy nie net kom om te oordeel nie, maar Hy sal Koning wees oor die hele aarde.  Ons sien die aankondiging van waar Hy Sy koningskap opneem wanneer die 7 de engel blaas, in (Openb. 11:15 - "En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid")(Openb. 19:15 - "En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige").  Die Skrif verwys na hierdie tydperk as "1000 jaar" (dan sal die duiwel gebind wees vir 'n 1000 jaar - Openb. 20:2). Die "wat oorwin", sal saam met Jesus regeer in hierdie tyd - Openb. 20:4). Oor hierdie Vrederyk het die O.T. profete ook geprofeteer. Dit is iets waarna Israel uitgesien het, omdat dit 'n tyd sal wees waarin God hulle as nasie sou herstel. Rondom hierdie tyd kry ons ook die "bruilof van die Lam".  Die volk, die Jode, sal hul soos een nasie TOT HOM BEKEER, wat noodsaaklik is om te kan ingaan in Sy koninkryk (wat dan ook die doel was van Johannes die Doper wat voor Jesus uitgegaan het maar hulle het Johannes doodgemaak en die Messias gekruisig - deur hierdie handelinge het God in Sy alwetendheid voorsiening gemaak daarvoor dat enige iemand, ook nie-Jode, wat in Sy Seun glo, geseen kan word en deel kan word van die koninkryk).  Dan sal die Here Sy volk versamel uit al die volke en hulle saambring in die land Israel en hulle, sowel die gelowiges "wat oorwin" (wat nou reeds deel gehad het aan die eerste opstanding), sal saam met Hom regeer.    




Die teken van Jesus se wederkoms word vir ons goed beskryf in Luk. 17:24.  Hierdie dag sal gepaardgaan met "donkerheid en wolke". Die gelowiges wat in Christus gesterf het, sal opgewek word  en die gelowiges wat dan nog in die lewe oor is, sal deur die engele versamel word, (die ware gelowiges geskei word van die valses - oordeel - koring en kaf sal geskei word), en hulle liggame sal in 'n oogwink verander word - dit noem ons die eerste opstanding. Hierdie gelowiges sal almal saam met Jesus regeer in die 1000 jaar.  Met hierdie inligting in ag geneem, behoort dit maklik te wees vir die Christen om te kan onderskei tussen die valse Christus en Jesus Christus, die Seun van God.  (Mat 24:26,27 - "As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn—moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer—moet dit nie glo nie. Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees).

(Sag. 14:1-21)  "Kyk, daar kom ‘n dag vir die HERE; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem! Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie. En die HERE sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog (slag van Armageddon). En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide. En julle sal vlug in die dal van my berge—want die dal van die berge sal loop tot by Asal—en julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussía, die koning van Juda. Dan sal die HERE my God kom, al die heiliges met U (die wat in Christus gesterf het - 1 Thess. 4:14-17)! En in dié dag sal daar geen lig wees nie, die sterre sal duister wees (vgl. met Matt. 24:29). En dit sal ‘n enige dag wees wat aan die HERE bekend is—geen dag en geen nag nie; maar teen die aand sal dit lig word (vgl. met Matt. 24:26,27). En in dié dag sal daar lewende waters uit Jerusalem uitvloei, die een helfte daarvan na die Oostelike en die ander helfte daarvan na die Westelike See; somer en winter sal dit so wees. En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die HERE een wees, en sy Naam een. Die hele land sal soos die Vlakte word, van Geba tot by Rimmon, suid van Jerusalem; maar Jerusalem self sal hoog wees en woon op sy plek, van die poort van Benjamin af tot by die plek van die vorige poort, tot by die Hoekpoort, en van die toring Hanáneël tot by die parskuipe van die koning. En hulle sal daarin woon, en daar sal geen banvloek meer wees nie, en Jerusalem sal in veiligheid woon...." 


(l.w. op punt 8 is duiwel gebind IN 1000-jarige Vrederyk)


-------------------------------------------------------------------------------------------------------

Wat het Jesus se dissipels geglo oor Sy koningskap?
(Ander skrifte)

*  Paulus herinner in Hand.13:20-23 van hoe die volk 'n koning begeer het in tyd van Samuel - toe het God vir hulle eers vir Saul gegee, toe vir Dawid, en dan verklaar hy in v.23 - "Uit die nageslag van hierdie man (Dawid) het God vir Israel, volgens die belofte, Jesus as Verlosser verwek".  Kyk ook Hand. 17:7 - 'n bewys dat Paulus-hulle van Jesus gepraat het as die Koning.  Paulus praat ook in 1 Kor. 15:25 van hoe Jesus as koning moet heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.

----------------------------------------------------------------------------------------------------------
*  (Hy het vir ons sonde gesterf, opgestaan uit die dood en opgevaar hemel toe waar Hy gaan sit het aan die regterhand van God, net soos die profete voorspel het - ons wag nou op Sy wederkoms, daarna die 1000-jarige Vrederyk, waarin Hy as Koning sal regeer - "met 'n ysterstaf", se die skrif)
------------------------------------------------------------------------------------------------------



(Die volgende kan soos 'n verhaal voorgelees word en gaan oor)
"Jesus Christus, die Koning":  skrifgedeeltes geneem uit die boeke van "Mattheus", "Markus", "Lukas" en "Johannes"
 -(die onderstaande gebeure is nie noodwendig in volgorde nie en net sekere inligting rakende die onderwerp van bespreking, is uitgelig)(inligting oor "Jesus as Koning"; "die Jode was eerste genooi" en "verwerping deur die volk") :

 En toe Jesus te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom  en gesê:  Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys. En toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld en die hele Jerusalem saam met hom; en hy het al die owerpriesters en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar laat kom en by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word. En hulle het vir hom gesê: Te Betlehem in Judéa, want so is daar deur die profeet geskrywe: En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal ‘n leidsman voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees. Toe het Herodes die wyse manne in die geheim geroep en hulle na die tyd van die ster se verskyning uitgevra;  en hy het hulle na Betlehem gestuur en gesê: Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom vind, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en Hom hulde bewys.  En nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, gaan voor hulle uit totdat hy kom en bly staan bo-oor die plek waar die Kindjie was. En toe hulle die ster sien, het hulle hul met baie groot blydskap verheug. En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys. Daarop maak hulle hul skatte oop en bring vir Hom geskenke: goud en wierook en mirre. En omdat hulle in ‘n droom ‘n goddelike waarskuwing ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met ‘n ander pad na hul land teruggegaan.  En toe hulle teruggegaan het, verskyn daar ‘n engel van die HERE in ‘n droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak. Hy het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek. En hy was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my Seun geroep (Hos. 11:1). Toe Herodes sien dat hy deur die wyse manne mislei was, het hy baie woedend geword en gestuur en in Betlehem en in al die omstreke daarvan al die seuntjies van twee jaar en daaronder laat ombring, ooreenkomstig die tyd wat hy van die wyse manne uitgevra het. Toe is vervul wat deur Jeremia, die profeet, gespreek is toe hy gesê het: ‘n Stem is in Rama gehoor: rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie (Jer. 31:15). En ná die dood van Herodes het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef in Egipte verskyn en gesê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder, en gaan na die land van Israel; want hulle is dood wat die lewe van die Kindjie gesoek het.  En hy het opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en in die land van Israel gekom.  Maar toe hy hoor dat Archeláüs oor Judéa koning was in die plek van sy vader Herodes, was hy bevrees om daarheen te gaan. En hy het ‘n goddelike waarskuwing in ‘n droom ontvang en na die streke van Galiléa teruggekeer. En hy het gaan woon in ‘n stad met die naam van Násaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasaréner genoem sou word (Jes. 11:1).

 In daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judéa gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. Maar toe hy baie van die Fariseërs en Sadduseërs na sy doop sien kom, sê hy vir hulle: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is? Dra dan vrugte wat by die bekering pas.  En moenie dink om by julleself te sê: ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek.  Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand. Toe het Jesus van Galiléa na die Jordaan, na Johannes gekom om deur hom gedoop te word. Maar Johannes het Hom ernstig teëgegaan en gesê: Ek het nodig om deur U gedoop te word, en kom U na my toe?  Maar Jesus het geantwoord en vir hom gesê: Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul. Daarna het hy Hom toegelaat. En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom. En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. 

 Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel.  Hy het 40 dae en 40 nagte gevas.

Van toe af het Hy begin om te preek en te sê: "Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom". 

Hy het vir Hom dissipels vergader en deur die hele Galiléa rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees. En die gerug aangaande Hom is versprei oor die hele Sírië; en hulle het na Hom gebring almal wat ongesteld was, wat gekwel was deur allerhande siektes en pyne en wat van duiwels besete was, en maansiekes en verlamdes; en Hy het hulle gesond gemaak. En groot menigtes het Hom gevolg van Galiléa en Dekápolis en Jerusalem en Judéa en van oorkant die Jordaan af. En toe Hy die skare sien, het Hy op die berg geklim; en nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom gekom; en Hy het sy mond geopen en hulle geleer. En toe Hy hulle klaar geleer het, was die skare verslae oor sy leer; want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie. En toe Hy van die berg afkom, het groot menigtes Hom gevolg. 

 En nadat Jesus in Kapérnaüm ingegaan het, kom daar ‘n hoofman oor honderd na Hom toe en smeek Hom en sê: Here, my kneg lê tuis verlam en hy ly hewige pyne. Daarop sê Jesus vir hom: Ek sal kom en hom gesond maak. En die hoofman oor honderd antwoord en sê: Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie; maar spreek net ‘n woord, en my kneg sal gesond word. Want ek is ook ‘n man onder gesag, en ek het soldate onder my. En vir hierdie een sê ek: Gaan! en hy gaan; en vir ‘n ander een: Kom! en hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit. Toe Jesus dit hoor, het Hy Hom verwonder en aan sy volgelinge gesê: Voorwaar Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so ‘n groot geloof nie gevind nie. Maar Ek sê vir julle dat baie sal kom van ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob sal aansit in die koninkryk van die hemele. Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Toe sê Jesus vir die hoofman oor honderd: Gaan, en laat dit vir jou wees soos jy geglo het. En sy kneg het gesond geword in daardie uur.  En toe Jesus in die huis van Petrus kom, sien Hy sy skoonmoeder siek lê aan die koors. En Hy het haar hand aangeraak, en die koors het haar verlaat, en sy het opgestaan en hulle bedien. En toe dit aand geword het, het hulle baie na Hom gebring, wat van duiwels besete was; en Hy het die geeste met ‘n woord uitgedrywe; en almal wat ongesteld was, het Hy gesond gemaak, sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra.

Op een stadium,  toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie. Toe sê Hy vir sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders is min.  Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur. En Hy het sy twaalf dissipels na Hom geroep en aan hulle mag gegee oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees. Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en hulle bevel gegee en gesê: Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ‘n stad van die Samaritane nie; maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel. En gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom.  En toe Jesus klaar was met bevele aan sy twaalf dissipels te gee, het Hy daarvandaan weggegaan om te leer en te preek in hulle stede.

 En op 'n ander dag het Hy uit die huis uitgegaan en by die see gaan sit. En groot menigtes het by Hom vergader, sodat Hy in ‘n skuit geklim en gaan sit het. En die hele skare het op die strand gestaan. En Hy het baie dinge deur gelykenisse tot hulle gespreek en gesê: ‘n Saaier het uitgegaan om te saai; en terwyl hy saai, val ‘n deel langs die pad, en die voëls het gekom en dit opgeëet. En ‘n ander deel het op rotsagtige plekke geval waar daar nie baie grond was nie; en dadelik het dit opgekom, omdat daar geen diepte van grond was nie, maar toe die son opgaan, is dit verskroei, en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog. En ‘n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik. En ‘n ander deel het in die goeie grond geval en vrug opgelewer: die een honderd—, die ander sestig—, die ander dertigvoudig. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor! En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse? Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie. En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor. Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie. Luister julle dan na die gelykenis van die saaier. As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is—dit is hy by wie langs die pad gesaai is. En by wie op rotsagtige plekke gesaai is—dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem; maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ‘n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik. En by wie in die dorings gesaai is—dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar. En by wie op die goeie grond gesaai is—dit is hy wat die woord hoor en verstaan, wat dan ook vrug dra en oplewer: die een honderd,die ander sestig—, die ander dertigvoudig. ‘n 

Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ‘n man wat goeie saad in sy land gesaai het; maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan. En toe die spruitjies opgeskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook. En die diensknegte van die huisheer het gekom en vir hom gesê: Meneer, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kry dit dan die onkruid vandaan? En hy antwoord hulle: ‘n Vyandige mens het dit gedoen. Toe sê die diensknegte vir hom: Wil u dan hê dat ons dit moet gaan bymekaarmaak? Maar hy antwoord: Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie. Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur. 

‘n Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ‘n mosterdsaad wat ‘n man neem en in sy land saai; wat wel die kleinste is van al die soorte saad, maar as dit gegroei het, groter is as die groentesoorte en ‘n boom word, sodat die voëls van die hemel kom en nes maak in sy takke. 

‘n Ander gelykenis het Hy hulle vertel: Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat ‘n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is. Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse vir die skare gesê, en sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie; sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur die profeet: Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af. 

Nadat Hy die skare weggestuur het, het Jesus huis toe gegaan; en sy dissipels het na Hom gekom en gesê: Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand. En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens, en die saailand is die wêreld. Die goeie saad—dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose, en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele. Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld: die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor. 

Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand. Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit. 

Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n net wat in die see gegooi word en van elke soort bymekaarbring; en as dit vol geword het, trek hulle dit op die strand uit en gaan sit en maak die goeies in bakke bymekaar, maar gooi die slegtes weg. So sal dit wees in die voleinding van die wêreld: die engele sal uitgaan en die slegte mense onder die regverdiges uit afskei en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Jesus sê vir hulle: Het julle ál hierdie dinge verstaan? Hulle antwoord Hom: Ja, Here! Toe sê Hy vir hulle: Daarom is elke skrifgeleerde wat ‘n leerling geword het in die koninkryk van die hemele, soos ‘n huisheer wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring. En toe Jesus hierdie gelykenisse geëindig het, het Hy daarvandaan weggegaan. 

Toe Jesus in Jerusalem was op die pasga gedurende die fees, het baie in sy Naam geglo, omdat hulle die tekens gesien het wat Hy doen. Maar Jesus self het Hom aan hulle nie toevertrou nie, omdat Hy almal geken het en omdat Hy nie nodig gehad het dat iemand van die mens sou getuig nie; want Hy self het geweet wat in die mens is.

En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode. Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie. Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie. Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. Nikodémus antwoord en sê vir Hom: Hoe kan hierdie dinge gebeur? Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, ons spreek wat ons weet en ons getuig van wat ons gesien het, en julle neem ons getuienis nie aan nie. As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel? En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is. En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.   Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie. Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is. Hierna het Jesus en sy dissipels na die land van Judéa gegaan, en Hy het daar met hulle vertoef en gedoop.


 Toe die Here dan verneem dat die Fariseërs gehoor het dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes— alhoewel Jesus self nie gedoop het nie, maar sy dissipels—  het Hy Judéa verlaat en weer na Galiléa gegaan. En Hy moes deur Samaría gaan. Hy kom toe by ‘n stad van Samaría wat Sígar genoem word, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. En die fontein van Jakob was daar. Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, somaar by die fontein gaan sit. Dit was omtrent die sesde uur.  Daar kom ‘n vrou uit Samaría om water te skep. Jesus sê vir haar: Gee vir My water om te drink— want sy dissipels het na die stad gegaan om voedsel te koop. En die Samaritaanse vrou sê vir Hom: Hoe is dit dat U wat ‘n Jood is, van my vra om te drink terwyl ek ‘n Samaritaanse vrou is? Want die Jode hou geen gemeenskap met die Samaritane nie. Jesus antwoord en sê vir haar: As jy die gawe van God geken het en geweet het wie Hy is wat vir jou sê: Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het. Die vrou sê vir Hom: Here, U het nie eens ‘n skepding nie, en die put is diep; waarvandaan kry U dan die lewende water? U is tog nie groter as ons vader Jakob nie, wat die put aan ons gegee het en self daaruit gedrink het, en sy seuns en sy vee?  Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe. Die vrou sê vir Hom: Here, gee my daardie water, sodat ek nie dors kry en hier hoef te kom skep nie. Jesus sê vir haar: Gaan roep jou man en kom hier.  Die vrou antwoord en sê: Ek het nie ‘n man nie. Jesus sê vir haar: Jy het reg gesê: Ek het nie ‘n man nie; want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Dit het jy met waarheid gesê. Die vrou sê vir Hom: Here, ek sien dat U ‘n profeet is.  Ons vaders het op hierdie berg aanbid, en julle sê dat die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is. Jesus sê vir haar: Vrou, glo My, daar kom ‘n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie. Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode. Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. Die vrou sê vir Hom: Ek weet dat die Messías kom, Hy wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy ons alles verkondig. Jesus sê vir haar: Dit is Ek wat met jou spreek! En op dié oomblik het sy dissipels gekom en hulle verwonder dat Hy met ‘n vrou in gesprek was. Tog het niemand gesê: Wat verlang U nie? of: Waarom spreek U met haar? Die vrou het toe haar waterkan laat staan en na die stad gegaan en vir die mense gesê: Kom kyk ‘n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie? Hulle het toe uit die stad gegaan en na Hom gekom. En intussen het sy dissipels by Hom aangedring en gesê: Rabbi, eet. Maar Hy sê vir hulle: Ek het voedsel om te eet waar julle nie van weet nie. Die dissipels sê toe vir mekaar: Het iemand dan vir Hom ete gebring? Jesus sê vir hulle: My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring. Sê julle nie: Dit is nog vier maande, dan kom die oes nie? Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes. En hy wat maai, ontvang loon en vergader vrug vir die ewige lewe, sodat die saaier en die maaier saam bly kan wees. Want hierin is die woord waar: Dit is een wat saai, en ‘n ander wat maai. Ek het julle gestuur om te maai waar julle nie aan gewerk het nie. Ander het gewerk, en julle het in hulle arbeid ingegaan. En baie van die Samaritane uit daardie stad het in Hom geglo oor die woord van die vrou wat getuig het: Hy het my alles vertel wat ek gedoen het. Toe die Samaritane dan by Hom kom, het hulle by Hom aangedring om by hulle te bly; en Hy het daar twee dae gebly. En baie meer het op grond van sy woord geglo en aan die vrou gesê: Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Christus, die Saligmaker van die wêreld, is.


 En daarna het Jesus in Galiléa rondgegaan, want Hy wou nie in Judéa rondgaan nie, omdat die Jode probeer het om Hom dood te maak.  En die fees van die Jode, die huttefees, was naby. Sy broers het toe vir Hom gesê: Vertrek hiervandaan en gaan na Judéa, sodat u dissipels ook u werke kan sien wat U doen. Want niemand doen iets in die geheim en soek tegelykertyd om in iedereen se mond te wees nie. As U hierdie dinge doen, vertoon Uself aan die wêreld. Want ook sy broers het nie in Hom geglo nie. Toe sê Jesus vir hulle: My tyd is nog nie daar nie. Maar julle tyd is altyd daar. Die wêreld kan julle nie haat nie; maar My haat hy, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is. Gaan julle op na hierdie fees. Ek gaan nog nie op na hierdie fees nie, omdat my tyd nog nie daar is nie. En nadat Hy dit aan hulle gesê het, het Hy in Galiléa gebly.  Maar nadat sy broers opgegaan het, toe het Hy ook opgegaan na die fees, nie openlik nie, maar in die geheim. En die Jode het Hom op die fees gesoek en gesê: Waar is Hy? En daar is baie oor Hom gemompel onder die skare. Sommige het gesê: Hy is goed. Ander weer het gesê: Nee, maar Hy mislei die skare. Tog het niemand openlik oor Hom gepraat nie, uit vrees vir die Jode. En toe dit al in die middel van die fees was, het Jesus opgegaan na die tempel en geleer. En die Jode het hulle verwonder en gesê: Hoe kom Hy aan die geleerdheid terwyl Hy geen onderwys ontvang het nie?  Jesus antwoord hulle en sê: My leer is nie myne nie, maar van Hom wat My gestuur het. As iemand gewillig is om sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet of dit uit God is, en of Ek uit Myself spreek.  Hy wat uit homself spreek, soek sy eie eer; maar Hy wat die eer soek van dié Een wat Hom gestuur het, Hy is waaragtig en daar is geen ongeregtigheid in Hom nie. Het Moses julle nie die wet gegee nie? En niemand van julle hou die wet nie. Waarom wil julle My om die lewe bring? Die skare antwoord en sê: U is van die duiwel besete; wie wil U om die lewe bring? Jesus antwoord en sê vir hulle: Een werk het Ek gedoen, en julle verwonder julle almal.  Daarom het Moses julle die besnydenis gegee—nie dat dit van Moses is nie, maar van die vaders—en op die sabbat besny julle ‘n mens. As ‘n mens die besnydenis op die sabbat ontvang, sodat die wet van Moses nie verbreek mag word nie, is julle kwaad vir My, omdat Ek ‘n mens op die sabbat heeltemal gesond gemaak het? Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel ‘n regverdige oordeel. Daarop sê sommige van die inwoners van Jerusalem: Is dit nie Hy wat hulle soek om dood te maak nie? En kyk, Hy spreek openlik en hulle sê vir Hom niks nie! Sou die owerstes dan waarlik weet dat Hy werklik die Christus is? En hierdie man—ons weet van waar Hy is; maar die Christus, wanneer Hy kom, weet niemand van waar Hy is nie.Jesus roep toe uit, terwyl Hy in die tempel leer, en sê: Julle ken My en julle weet ook van waar Ek is; tog het Ek nie uit Myself gekom nie; maar Hy wat My gestuur het, is waaragtig, vir wie julle nie ken nie. Maar Ek ken Hom, omdat Ek van Hom kom en Hy My gestuur het. Toe probeer hulle om Hom gevange te neem; en niemand het die hand aan Hom geslaan nie, omdat sy uur nog nie gekom het nie. Maar baie van die skare het in Hom geglo en gesê: Wanneer die Christus kom, sal Hy meer tekens doen as wat hierdie man gedoen het? Die Fariseërs het gehoor dat die skare dit van Hom mompel, en die Fariseërs en die owerpriesters het dienaars gestuur om Hom gevange te neem. Toe sê Jesus vir hulle: Nog ‘n klein tydjie is Ek by julle, en Ek gaan na Hom wat My gestuur het. Julle sal My soek en nie vind nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie. En die Jode sê onder mekaar: Waar wil Hy heengaan, dat ons Hom nie sal vind nie? Hy wil tog nie na die verstrooides onder die Grieke gaan en die Grieke leer nie? Wat beteken hierdie woord wat Hy gesê het: Julle sal My soek en nie vind nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie? En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie. Baie van die skare het, toe hulle die woord hoor, gesê: Hy is waarlik die profeet. Ander het gesê: Hy is die Christus. En ander het gesê: Kom die Christus dan uit Galiléa? Het die Skrif nie gesê dat die Christus uit die geslag van Dawid kom en uit Betlehem, die dorp waar Dawid was nie? Daar het toe verdeeldheid onder die skare gekom oor Hom. En sommige van hulle wou Hom gevange neem, maar niemand het die hand aan Hom geslaan nie. Die dienaars kom toe by die owerpriesters en die Fariseërs, en dié sê vir hulle: Waarom het julle Hom nie gebring nie. Die dienaars antwoord: Nooit het ‘n mens so gespreek soos hierdie mens nie. En die Fariseërs antwoord hulle: Julle is tog nie ook mislei nie? Het iemand uit die owerstes in Hom geglo, of uit die Fariseërs? Maar hierdie skare wat die wet nie ken nie, is vervloek! Nikodémus—hy wat in die nag na Hom gegaan het, wat een van hulle was—sê vir hulle: Oordeel ons wet die mens sonder om hom eers te hoor en te weet wat hy doen? Hulle antwoord en sê vir hom: Jy is tog nie ook uit Galiléa nie? Ondersoek en sien dat daar geen profeet uit Galiléa opgestaan het nie.  En elkeen het huis toe gegaan.

  En toe Hy in die streke van Cesaréa-Filippi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete. Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.  En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.

 Daarop het Hy sy dissipels bevel gegee dat hulle vir niemand moes sê dat Hy Jesus die Christus is nie. Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word. Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie! Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?  Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.

 En ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes, sy broer, saamgeneem en hulle op ‘n hoë berg in die eensaamheid gebring. En Hy het voor hulle van gedaante verander, en sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig. En kyk, daar verskyn aan hulle Moses en Elía in gesprek met Hom. Toe begin Petrus vir Jesus te sê: Here, dit is goed dat ons hier is; as U wil, laat ons hier drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en een vir Elía. Terwyl hy nog spreek, oordek ‘n helderligte wolk hulle meteens en daar sê ‘n stem uit die wolk: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom! En toe die dissipels dit hoor, het hulle op hul aangesig geval en was baie bevrees. En Jesus het nader gekom en hulle aangeraak en gesê: Staan op en moenie vrees nie. Toe slaan hulle hul oë op en sien niemand meer nie, behalwe Jesus alleen. En onderwyl hulle van die berg afklim, het Jesus hulle bevel gegee en gesê: Julle moet vir niemand iets van die gesig sê voordat die Seun van die mens uit die dode opgestaan het nie. En sy dissipels vra Hom en sê: Waarom sê die skrifgeleerdes dan dat Elía eers moet kom? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dis waar, Elía kom eers en sal alles herstel;  maar Ek sê vir julle dat Elía al gekom het, en hulle het hom nie erken nie, maar aan hom alles gedoen wat hulle wou. So sal die Seun van die mens ook deur hulle ly.  Toe verstaan die dissipels dat Hy met hulle van Johannes die Doper gespreek het. In daardie uur het die dissipels na Jesus gekom en gesê: Wie is tog die grootste in die koninkryk van die hemele? Toe roep Jesus ‘n kindjie na Hom en laat hom in hulle midde staan en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie! Elkeen dan wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele. En elkeen wat een van sulke kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My; maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see. Wee die wêreld weens die struikelblokke! Want dit is noodsaaklik dat daar struikelblokke kom, maar wee die mens deur wie die struikelblok kom.  En as jou hand of jou voet jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; dit is vir jou beter om in die lewe in te gaan, kreupel of vermink, as om twee hande of voete te hê en in die ewige vuur gewerp te word. En as jou oog jou laat struikel, ruk dit uit en werp dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om met een oog in die lewe in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word. Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is. Want die Seun van die mens het gekom om te red wat verlore is. Wat dink julle? As iemand honderd skape het en een van hulle verdwaal, sal hy nie die nege en negentig laat staan en op die berge die verdwaalde een gaan soek nie? En as hy hom kry, voorwaar Ek sê vir julle dat hy blyer is oor hom as oor die nege en negentig wat nie verdwaal het nie. So is dit nie die wil van julle Vader wat in die hemele is, dat een van hierdie kleintjies verlore gaan nie. En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin;  maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan. En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.

Op 'n ander stadium het hulle kindertjies na Hom gebring, dat Hy hulle die hande sou oplê en bid; en die dissipels het hulle bestraf. Maar Jesus sê: Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie; want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele. En Hy het hulle die hande opgelê en daarvandaan vertrek. En daar kom een na Hom en sê vir Hom: Goeie Meester, watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê? En Hy sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe een, naamlik God. Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie. Hy vra Hom: Watter? En Jesus sê—dit: Jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie; eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die jongman sê vir Hom: Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af. Wat kom ek nog kort? Jesus antwoord hom: As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My.  Maar toe die jongman dié woord hoor, het hy bedroef weggegaan; want hy het baie besittings gehad.  En Jesus sê vir sy dissipels: Voorwaar Ek sê vir julle dat ‘n ryk man beswaarlik in die koninkryk van die hemele sal ingaan. En verder sê Ek vir julle, dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan. Toe sy dissipels dit hoor, was hulle baie verslae en sê: Wie kan dan gered word? Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik. Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal daar dan vir ons wees? En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel. En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.

Want die koninkryk van die hemele is soos ‘n huisheer wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur. En nadat hy met die arbeiders ooreengekom het vir ‘n penning op ‘n dag, stuur hy hulle in sy wingerd. En omtrent die derde uur gaan hy uit en sien ander ledig op die mark staan. En hy sê vir hulle: Gaan julle ook in die wingerd, en wat reg is, sal ek aan julle gee. En hulle het gegaan. Weer het hy omtrent die sesde en die negende uur uitgegaan en net dieselfde gedoen. En omtrent die elfde uur gaan hy uit en vind ander ledig staan en sê vir hulle: Wat staan julle hier die hele dag ledig? Hulle antwoord hom: Omdat niemand ons gehuur het nie. Hy sê vir hulle: Gaan julle ook in die wingerd, en wat reg is, sal julle ontvang. En toe dit aand geword het, sê die heer van die wingerd vir sy opsigter: Roep die arbeiders en betaal hulle hul loon; en begin van die laastes af tot by die eerstes. En die wat omtrent die elfde uur begin het, het gekom en elkeen ‘n penning ontvang. Die eerstes kom toe en dink dat hulle meer sal ontvang, en hulle het ook elkeen ‘n penning ontvang. En toe hulle dit ontvang, murmureer hulle by die huisheer en sê: Hierdie laastes het een uur gewerk, en u het hulle gelykop behandel met ons wat die las van die dag en die hitte gedra het. Maar hy antwoord en sê vir een van hulle: Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir ‘n penning nie? Neem dan wat joue is, en gaan heen. Ek wil aan hierdie laaste een gee net soos aan jou. Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? Of is jou oog verkeerd, omdat ek goed is? So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste; want baie is geroep, maar min uitverkies.

En toe Jesus opgaan na Jerusalem, het Hy die twaalf dissipels op die pad alleen geneem en vir hulle gesê: Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en skrifgeleerdes; en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom oorlewer aan die heidene om Hom te bespot en te gésel en te kruisig; en op die derde dag sal Hy opstaan. Toe kom die moeder van die seuns van Sebedéüs met haar seuns na Hom en buig voor Hom neer om iets van Hom te vra. En Hy sê vir haar: Wat wil jy hê? Sy antwoord Hom: Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter— en een aan u linkerhand. Maar Jesus antwoord en sê: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word? Hulle sê vir Hom: Ons kan En Hy sê vir hulle: Dis waar, my beker sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word; maar om te sit aan my regter— en aan my linkerhand berus nie by My om te gee nie, maar is vir hulle vir wie dit deur my Vader berei is. En toe die tien dit hoor, was hulle verontwaardig oor die twee broers. Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie. En toe hulle uit Jérigo uitgaan, het ‘n groot menigte Hom gevolg. En daar het twee blindes langs die pad gesit; en toe hulle hoor dat Jesus verbygaan, roep hulle uit en sê: Wees ons barmhartig, Here, Seun van Dawid! En die skare het hulle bestraf, dat hulle moes stilbly; maar hulle het al harder geroep en gesê: Wees ons barmhartig, Here, Seun van Dawid! Toe gaan Jesus staan en roep hulle en sê: Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen? Hulle antwoord Hom: Here, dat ons oë geopen mag word. En Jesus het innig jammer vir hulle gevoel en hulle oë aangeraak, en dadelik het hulle oë gesien, en hulle het Hom gevolg.

En toe hulle naby Jerusalem gekom en Bétfagé aan die Olyfberg bereik het, stuur Jesus twee dissipels uit en sê vir hulle:  Gaan na daardie dorp reg voor julle, en dadelik sal julle ‘n eselin vind wat vasgemaak is, en ‘n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My.  En as iemand vir julle iets sê, moet julle antwoord: Die Here het hulle nodig; en dadelik sal hy hulle stuur. En dit het alles gebeur, sodat vervul sou word die woord wat deur die profeet gespreek is: Sê vir die dogter van Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe, sagmoedig, en Hy sit op ‘n esel, ja, ‘n jong esel, die vul van ‘n pakdier. En die dissipels het gegaan en gedoen soos Jesus hulle beveel het; hulle het die esel en die vul gebring en hulle klere daarop gelê, en Hy het daarop gaan sit. En die grootste deel van die skare het hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takke van die bome afgekap en op die pad gestrooi. En die skare wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!  En toe Hy in Jerusalem inkom, het die hele stad in opskudding geraak en gesê: Wie is hierdie man? En die skare sê: Dit is Jesus, die profeet, van Násaret in Galiléa. En Jesus het in die tempel van God ingegaan en almal wat in die tempel verkoop en koop, uitgejaag en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi. En Hy sê vir hulle: Daar is geskrywe: My huis moet ‘n huis van gebed genoem word. Maar julle het dit ‘n rowerspelonk gemaak.

 En daar het blindes en kreupeles na Hom gekom in die tempel, en Hy het hulle gesond gemaak. En toe die owerpriesters en skrifgeleerdes die wonderwerke sien wat Hy gedoen het, en die kinders wat in die tempel uitroep en sê: Hosanna vir die Seun van Dawid! was hulle verontwaardig en sê vir Hom: Hoor U wat hulle daar sê? En Jesus antwoord hulle: Ja, het julle nooit gelees: Uit die mond van kinders en suigelinge het U vir U lof berei nie? En Hy het hulle verlaat en uit die stad uitgegaan na Betánië en daar vernag.  En vroeg in die môre toe Hy teruggaan na die stad, het Hy honger gehad; en Hy sien ‘n vyeboom langs die pad en gaan daarnatoe; maar Hy het niks daaraan gevind nie as net blare alleen; en Hy sê vir hom: Laat daar uit jou tot in ewigheid nooit weer ‘n vrug kom nie! En onmiddellik het die vyeboom verdroog. En toe die dissipels dit sien, was hulle verwonderd en sê: Hoe het die vyeboom so onmiddellik verdroog? Maar Jesus antwoord en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met die vyeboom gebeur het nie; maar al sê julle ook vir hierdie berg: Hef jou op en werp jou in die see—sal dit gebeur. En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo. En toe Hy in die tempel gegaan het, kom die owerpriesters en die ouderlinge van die volk na Hom terwyl Hy besig was om te leer, en hulle sê: Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U hierdie gesag gegee?

 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra, en as julle dit vir My sê, sal Ek julle ook vertel deur watter gesag Ek hierdie dinge doen. Die doop van Johannes, waar was dit vandaan, uit die hemel of uit mense? En hulle het by hulleself geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel—dan sal Hy ons vra: Waarom het julle hom dan nie geglo nie? En as ons sê: Uit mense—dan moet ons oppas vir die menigte, want almal hou Johannes vir ‘n profeet. Toe antwoord hulle Jesus en sê: Ons weet nie. Hy sê toe ook vir hulle: Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie. Maar wat dink julle? ‘n Man het twee kinders gehad, en hy gaan na die eerste en sê: Kind, gaan werk vandag in my wingerd. En hy antwoord en sê: Ek wil nie; maar later het hy berou gekry en gegaan.  Toe het hy na die tweede gegaan en vir hom net so gesê; en hy antwoord en sê: Ja, heer. En hy het nie gegaan nie. Wie van die twee het die wil van die vader gedoen? Hulle antwoord Hom: Die eerste. Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God. Want Johannes het na julle gekom in die weg van geregtigheid, en julle het hom nie geglo nie; maar die tollenaars en die hoere het hom geglo. En julle het dit gesien en tog nie later berou gekry om hom te glo nie. Luister na ‘n ander gelykenis: Daar was ‘n sekere huisheer wat ‘n wingerd geplant het; en hy het ‘n heining daarom gesit en ‘n parskuip daarin gegrawe en ‘n wagtoring gebou, en hy het dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan.  En toe die vrugtetyd nader kom, stuur hy sy diensknegte na die landbouers om sy vrugte te ontvang. Maar die landbouers het sy diensknegte geneem en een geslaan en ‘n ander een doodgemaak en ‘n ander een gestenig. Weer het hy ander diensknegte gestuur, meer as die eerstes, en hulle het met dié net so gemaak. Oplaas het hy sy seun na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien.  Maar toe die landbouers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak en sy erfdeel in besit neem.  En hulle het hom geneem en buitekant die wingerd uitgewerp en doodgemaak. Wanneer die eienaar van die wingerd dan kom, wat sal hy met daardie landbouers doen? Hulle antwoord Hom: Die slegte mense—hy sal hulle ‘n slegte dood laat sterwe en die wingerd verhuur aan ander landbouers wat hom die vrugte op die regte tyd sal gee. Jesus sê vir hulle: Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë? Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ‘n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra. En hy wat op hierdie steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel.  En toe die owerpriesters en die Fariseërs sy gelykenisse hoor, het hulle begryp dat Hy van hulle spreek.  En hulle het probeer om Hom in hulle mag te kry, maar hulle was bang vir die skare, omdat dié Hom vir ‘n profeet gehou het.

En Jesus het weer deur gelykenisse met hulle begin spreek en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ‘n koning wat ‘n bruilof vir sy seun berei het en sy diensknegte uitgestuur het om die genooides na die bruilof te roep, en hulle wou nie kom nie. Weer het hy ander diensknegte uitgestuur met die boodskap: Sê vir die genooides: Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof. Maar hulle het hul daaraan nie gesteur nie en weggegaan, een na sy eie stuk land en ‘n ander na sy handelsaak. En die origes het sy diensknegte gegryp en mishandel en doodgemaak. Toe die koning dit hoor, het hy kwaad geword en sy manskappe gestuur en daardie moordenaars omgebring en hulle stad aan die brand gesteek. Daarop sê hy vir sy diensknegte: Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie. Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof. En daardie diensknegte het uitgegaan op die paaie en almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword. En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ‘n bruilofskleed aan het nie. En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Want baie is geroep, maar min uitverkies.

Toe gaan die Fariseërs saam raad hou hoe om Hom in sy woord te verstrik.
  En hulle stuur hul dissipels saam met die Herodiane na Hom en sê: Meester, ons weet dat U waaragtig is en die weg van God in waarheid leer en U aan niemand steur nie, want U sien nie die persoon van mense aan nie— sê dan vir ons, wat dink U: Is dit geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie? Maar Jesus het hulle boosheid bemerk en gesê: Geveinsdes, waarom versoek julle My? Wys My die belastingmunt. En hulle het vir Hom ‘n penning gebring. En Hy sê vir hulle: Wie se beeld en opskrif is dit?  Hulle antwoord Hom: Die keiser s’n. Daarop sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom. En toe hulle dit hoor, was hulle verwonderd en het Hom verlaat en weggegaan. Dieselfde dag kom daar na Hom Sadduseërs, hulle wat sê dat daar geen opstanding is nie, en vra Hom en sê: Meester, Moses het gesê: As iemand sonder kinders sterwe, moet sy broer sy vrou trou en kinders vir sy broer verwek. Nou was daar by ons sewe broers, en die eerste het getrou en gesterwe; en omdat hy geen kinders gehad het nie, het hy sy vrou vir sy broer agtergelaat. So ook die tweede en die derde tot die sewende toe.  En laaste van almal het die vrou ook gesterwe. In die opstanding dan, van watter een van die sewe sal sy die vrou wees—want hulle almal het haar gehad? Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie. Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel. En wat die opstanding van die dode betref—het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie: Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes. En toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer. En toe die Fariseërs hoor dat Hy die Sadduseërs die mond gestop het, het hulle almal saam vergader. En een van hulle, ‘n wetgeleerde, het ‘n vraag gestel om Hom te versoek en gesê:  Meester, wat is die groot gebod in die wet? En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

En toe die Fariseërs saamgekom het, vra Jesus hulle en sê: Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy? Hulle antwoord Hom: Dawid s’n. Hy sê vir hulle: Hoe is dit dan dat Dawid Hom in die Gees Here noem as hy sê: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete? As Dawid Hom dan Here noem, hoe is Hy sy seun? En niemand kon Hom ‘n woord antwoord nie; ook het geeneen van daardie dag af dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie. Toe het Jesus die skare en sy dissipels toegespreek en gesê: Die skrifgeleerdes en die Fariseërs sit op die stoel van Moses. Alles wat hulle dan vir julle mag sê om te onderhou, onderhou en doen dit; maar volgens hulle werke moet julle nie doen nie, want hulle praat en doen nie. Want hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer nie. En hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word, en hulle maak hul gedenkseëls breed en die some van hul klere groot.  En hulle hou van die voorste plekke by die maaltye en die voorste banke in die sinagoges en die begroetinge op die markte en om deur die mense genoem te word: Rabbi, Rabbi!  Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester: Christus, en julle is almal broeders. En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is.  Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester: Christus. Maar die grootste van julle moet jul dienaar wees. Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word. Maar wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle eet die huise van die weduwees op, en doen vir die skyn lang gebede. Daarom sal julle ‘n swaarder oordeel ontvang. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ‘n kind van die hel, twee maal erger as julle self. Wee julle, blinde leiers, julle wat sê: Elkeen wat sweer by die tempel—dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die goud van die tempel, hy is gebonde. Julle dwase en blindes, want wat is meer: die goud, of die tempel wat die goud heilig? En: Elkeen wat sweer by die altaar—dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die gawe daar bo-op, hy is gebonde. Julle dwase en blindes, want wat is meer: die gawe, of die altaar wat die gawe heilig? Wie dan sweer by die altaar, sweer dáárby en by alles wat daarop is; en wie sweer by die tempel, sweer dáárby en by Hom wat daarin woon; en wie sweer by die hemel, sweer by die troon van God en by Hom wat daarop sit. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat. Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk! Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is. So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle bou die grafte van die profete en versier die grafstene van die regverdiges; en julle sê: As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons geen deel met hulle gehad het aan die bloed van die profete nie.  Julle gee dus teen julself getuienis dat julle kinders is van die wat die profete vermoor het. Maak die maat van julle vaders dan vol! Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug? Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg, sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaría, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar. Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom. Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat. Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!

Jesus het ook nog ander verhale vertel t.o.v. die koninkryk en van die voleinding van die wereld.  Toe Jesus gevange geneem is en hulle Hom geneem het van Kájafas na die goewerneur se paleis, het Pilatus na hulle uitgekom en gesê: Watter beskuldiging bring julle teen hierdie man in? Hulle antwoord en sê vir hom: As Hy geen kwaaddoener was nie, sou ons Hom nie aan u oorgelewer het nie. En Pilatus sê vir hulle: Neem julle Hom en oordeel Hom volgens julle wet. En die Jode sê vir hom: Dit is ons nie geoorloof om iemand dood te maak nie— sodat die woord van Jesus vervul sou word wat Hy gesê het om aan te dui hoedanige dood Hy sou sterwe. Pilatus gaan toe weer in die goewerneur se paleis en roep Jesus en sê vir Hom: Is U die Koning van die Jode? Jesus antwoord hom: Sê u dit uit uself, of het ander u dit van My gesê? Pilatus antwoord: Is ek dan ‘n Jood? U volk en die owerpriesters het U aan my oorgelewer. Wat het U gedoen? Jesus antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie. Pilatus sê toe vir Hom: Is U dan tog ‘n koning? Jesus antwoord: U sê dat Ek ‘n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem. Pilatus sê vir Hom: Wat is waarheid? En toe hy dit gesê het, gaan hy weer uit na die Jode en sê vir hulle: Ek vind geen skuld in Hom nie. Maar julle het ‘n gewoonte dat ek vir julle op die pasga iemand moet loslaat; wil julle dan hê dat ek vir julle die Koning van die Jode moet loslaat.  Toe skreeu hulle almal weer en sê: Nie vir Hom nie, maar Barábbas! En Barábbas was ‘n rower.  Toe neem Pilatus dan vir Jesus en laat Hom gésel. En die soldate het ‘n kroon van dorings gevleg en dit op sy hoof gesit, en ‘n purper kleed om Hom gewer en gesê: Wees gegroet, Koning van die Jode! En hulle het Hom in die aangesig geslaan. Pilatus gaan toe weer buitentoe en sê vir hulle: Kyk, ek bring Hom vir julle uit buitentoe, sodat julle kan weet dat ek in Hom geen skuld vind nie. En Jesus het uitgekom buitentoe en die doringkroon en die purperkleed gedra. En Pilatus sê vir hulle: Dáár is die mens! En toe die owerpriesters en die dienaars Hom sien, skreeu hulle en sê: Kruisig, kruisig Hom! Pilatus sê vir hulle: Neem julle Hom en kruisig Hom, want ek vind geen skuld in Hom nie. Die Jode antwoord hom: Ons het ‘n wet en volgens ons wet moet Hy sterf, omdat Hy Homself die Seun van God gemaak het. En toe Pilatus hierdie woord hoor, het hy nog meer bevrees geword en weer in die paleis ingegaan en vir Jesus gesê: Van waar is U? Maar Jesus het hom geen antwoord gegee nie. En Pilatus sê vir Hom: Praat U nie met my nie? Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie. Jesus antwoord: U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde. Hierop het Pilatus probeer om Hom los te laat, maar die Jode het geskreeu en gesê: As u Hom loslaat, is u nie die keiser se vriend nie. Elkeen wat homself koning maak, kom in verset teen die keiser. En toe Pilatus hierdie woord hoor, het hy Jesus buitentoe gebring en op die regterstoel gaan sit in die plek wat Plaveisel genoem word, en in Hebreeus Gábbata. En dit was die voorbereiding vir die pasga en omtrent die sesde uur. Toe sê hy vir die Jode: Dáár is julle Koning! Maar hulle skreeu: Neem weg, neem weg, kruisig Hom! Pilatus sê vir hulle: Moet ek julle Koning kruisig? Die owerpriesters antwoord: Ons het geen koning behalwe die keiser nie. Toe het hy Hom dan aan hulle oorgegee om gekruisig te word. En hulle het Jesus geneem en Hom weggelei. En Hy het sy kruis gedra en uitgegaan na die sogenaamde Hoofskedelplek, in Hebreeus Gólgota waar hulle Hom gekruisig het en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, en Jesus in die middel. En Pilatus het ook ‘n opskrif geskrywe en dit op die kruis gesit; en daar was geskrywe: JESUS, DIE NASARÉNER, DIE KONING VAN DIE JODE. Hierdie opskrif dan het baie van die Jode gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was; en dit was geskrywe in Hebreeus en Grieks en Latyn. En die owerpriesters van die Jode het vir Pilatus gesê: Moenie skrywe: Die Koning van die Jode nie; maar dat Hy gesê het: Ek is die Koning van die Jode. Pilatus het geantwoord: Wat ek geskryf het, het ek geskrywe. En toe die soldate Jesus gekruisig het, neem hulle sy klere en maak vier dele, vir elke soldaat ‘n deel, en die onderkleed; maar die onderkleed was sonder naat, van bo af in een stuk gewewe. En hulle het vir mekaar gesê: Laat ons dit nie skeur nie, maar laat ons die lot daaroor werp, wie s’n dit sal wees—sodat die Skrif vervul sou word wat sê: Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad het hulle die lot gewerp. Dit het die soldate dan gedoen. En by die kruis van Jesus het gestaan sy moeder en sy moeder se suster, Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdaléna.  En toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder: Vrou, dáár is u seun! Daarop sê Hy vir die dissipel: Dáár is jou moeder! En van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem. Hierna, omdat Hy geweet het dat alles al volbring was—sodat die Skrif vervul sou word—het Jesus gesê: Ek het dors! En daar het ‘n kan vol asyn gestaan; en hulle het ‘n spons met asyn gevul en op ‘n hisopstingel gesit en aan sy mond gebring. En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee. En dat die liggame nie op die sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereiding was—want die dag van daardie sabbat was groot—het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word. Die soldate het toe gekom en die bene van die eerste een gebreek en van die ander een wat saam met Hom gekruisig was; maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy al dood was, het hulle sy bene nie gebreek nie.  Maar een van die soldate het met ‘n spies in sy sy gesteek, en dadelik het daar bloed en water uitgekom. En hy wat dit gesien het, het dit getuig, en sy getuienis is waaragtig; en hy weet dat hy die waarheid spreek, sodat julle kan glo. Want hierdie dinge het gebeur, dat die Skrif vervul sou word: Geen been van Hom sal gebreek word nie. En weer sê ‘n ander Skrif: Hulle sal sien in wie hulle gesteek het. En ná hierdie dinge het Josef van Arimathéa, wat ‘n dissipel van Jesus was, maar in die geheim, uit vrees vir die Jode, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag wegneem. En Pilatus het dit toegelaat. Hy het toe gegaan en die liggaam van Jesus weggeneem. En Nikodémus, wat die eerste maal in die nag na Jesus gegaan het, het ook gekom met ‘n mengsel van mirre en alewee van omtrent honderd pond gewig. En hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit in doeke toegedraai saam met die speserye, soos die gewoonte van die Jode is om te begrawe. En daar was op die plek waar Hy gekruisig is, ‘n tuin, en in die tuin ‘n nuwe graf waar nog nooit iemand in neergelê was nie. Daar het hulle Jesus toe neergelê weens die voorbereiding van die Jode, omdat die graf naby was.

 Nadat Jesus opgestaan het uit die dode, het Hy aan verskeie dissipels verskyn. Hy het ook die volgende aan hulle gese:  "Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld". Hy het ook vir hulle gese:  "Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet wordToe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan. En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte".

 Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen dat ons kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat ons deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------


 (Openb. 19:15)  En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.

(Openb. 19:16)  En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is:
Die Koning van die konings en die Here van die here.

------------------------------------------------------------------------------------------------------------

PROFESIEE VERVUL: 
* (Mat 1:22)  "En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het:,23 Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons" ( Jes. 7:14)
*  (Mat 2:14,15) " Hy het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek".  En hy was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my Seun geroep". (Hos. 11:1)
*  (Mat 2:16-18)  "Toe Herodes sien dat hy deur die wyse manne mislei was, het hy baie woedend geword en gestuur en in Betlehem en in al die omstreke daarvan al die seuntjies van twee jaar en daaronder laat ombring, ooreenkomstig die tyd wat hy van die wyse manne uitgevra het. Toe is vervul wat deur Jeremia, die profeet, gespreek is toe hy gesê het: ‘n Stem is in Rama gehoor: rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie". (Jer. 31:15)
*  (Mat 2:23)  "En hy het gaan woon in ‘n stad met die naam van Násaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasaréner genoem sou word".  (Jes. 11:1)

*  (Mat 4:13-16)  "En Hy het Násaret verlaat en gaan woon in Kapérnaüm aan die see, in die gebied van Sébulon en Náftali, sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het:  Die land Sébulon en die land Náftali, na die see toe, oorkant die Jordaan, Galiléa van die heidene— die volk wat in duisternis sit, het ‘n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het ‘n lig opgegaan".  (Jes. 9:1,2)
*  (Mat 8:16,17)  "En toe dit aand geword het, het hulle baie na Hom gebring, wat van duiwels besete was; en Hy het die geeste met ‘n woord uitgedrywe; en almal wat ongesteld was, het Hy gesond gemaak,  sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra". (Joh 12:38)  "sodat die woord van die profeet Jesaja vervul sou word wat hy gesê het: Here, wie het ons prediking geglo, en aan wie is die arm van die Here geopenbaar?"  (Jes. 53:1,4)
*  (Mat 12:16-21)  "en hulle ‘n streng bevel gegee dat hulle Hom nie bekend moes maak nie, sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur Jesaja, die profeet: Kyk, my Kneg wat Ek uitverkies het, my Geliefde in wie my siel ‘n welbehae het! Ek sal my Gees op Hom lê, en Hy sal aan die nasies die reg aankondig. Hy sal nie twis of uitroep nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie. ‘n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en ‘n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie, totdat Hy die reg tot oorwinning uitbring. En op sy Naam sal die heidene hoop".  (Jes. 49:5,6; 52:13; 53:11)
*  (Mat 13:14)  "En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie".  (Mat 13:35) " sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur die profeet: Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af". (Jes. 6:9,10; Eseg. 12:2)
*  (Mat 21:4) " En dit het alles gebeur, sodat vervul sou word die woord wat deur die profeet gespreek is: Sê vir die dogter van Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe, sagmoedig, en Hy sit op ‘n esel, ja, ‘n jong esel, die vul van ‘n pakdier".(Sag. 9:9)
*  (Mat 26:52-54)  "Toe sê Jesus vir hom: Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan. Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie? Hoe sou die Skrifte dan vervul word dat dit so moet gebeur?"  
*  (Mat 27:8)  "Daarom is dié stuk grond genoem Bloedgrond, tot vandag toe. Toe is vervul wat gespreek is deur Jeremia, die profeet, toe hy gesê het: En hulle het die dertig silwerstukke geneem, die prys van die gewaardeerde wat hulle gewaardeer het vanweë die kinders van Israel";  (Joh 13:18) " Ek spreek nie van julle almal nie—Ek weet wie Ek uitverkies het—maar dat die Skrif vervul kan word:Hy wat saam met My brood eet, het sy hakskeen teen My opgelig".  (Hand. 1:16)  Broeders, hierdie Skrif moes vervul word wat die Heilige Gees voorspel het deur die mond van Dawid aangaande Judas wat die leier was van die wat Jesus gevange geneem het"; (Sag. 11:12,13; Ps. 41:9; 55:12-15)
*  (Mat 27:35)  "En nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy klere verdeel deur die lot te werp, sodat vervul sou word wat deur die profeet gespreek is: Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad die lot gewerp".  (Mar 14:48,49)  "En Jesus antwoord en sê vir hulle: Het julle soos teen ‘n rower uitgetrek met swaarde en stokke om My gevange te neem?  Dag vir dag was Ek by julle in die tempel besig om te leer, en julle het My nie gegryp nie. Maar die Skrifte moes vervul word".  (Ps. 22:16-18) 
*  (Mar 15:27) " Hulle het ook twee rowers saam met Hom gekruisig, een aan sy regter— en een aan sy linkerkant.  En die Skrif is vervul wat sê: En Hy is by die misdadigers gereken".  (Jes. 53:12)
*  (Joh 15:24,25)  "As Ek nie die werke onder hulle gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle geen sonde hê nie. Maar nou het hulle dit gesien, en tog het hulle My sowel as my Vader gehaat.  Maar die woord wat in hulle wet geskrywe is, moet vervul word: Hulle het My sonder oorsaak gehaat".  (Joh 17:12)  "Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar. Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word".  (Joh 18:9)  "sodat die woord vervul sou word wat Hy gespreek het: Uit die wat U My gegee het, het Ek niemand verloor nie".  (Ps. 7:4)
*  (Joh 19:36) " Want hierdie dinge het gebeur, dat die Skrif vervul sou word:Geen been van Hom sal gebreek word nie".  (Ps. 34:20)


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.