Monday, January 14, 2013

Besprekingsvrae 12-17 jariges: GEBED EN VAS



In verskeie skrifte sien ons hoe Jesus die dissipels uitgestuur het om die evangelie van die koninkryk te verkondig - bv. in Mat 10:5-8 waar Hy die 12 uitgestuur het en vir hulle die volgende gesê het: "....gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom.  Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee".


In Luk 10:1 het die Here weer sewentig ander aangestel, en hulle twee-twee voor Hom uitgestuur na elke stad en plek waar Hy sou kom. Ons lees hoe die sewentig met blydskap teruggekom het en gesê het: "Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam".  Tog, in Matt. 17:14-20 lees ons van 'n man wat na Jesus gekom het, voor Hom op sy knieë neergeval het en gesê het: "Here, ontferm U oor my seun, want hy is maansiek en ly swaar; want dikwels val hy in die vuur en dikwels in die water. En ek het hom na u dissipels gebring, en hulle kon hom nie gesond maak nie". Toe antwoord Jesus en sê: o Ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank sal Ek by julle wees, hoe lank sal Ek julle verdra? Bring hom hier vir My.  Daarop bestraf Jesus hom; en die duiwel het van hom uitgegaan, en die seun het gesond geword van daardie uur af". 

Dus, alhoewel die dissipels tog op ander plekke duiwels uitgedryf het, kon hulle dit nie in Matt. 17 doen nie.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
VRAAG:  
-Jesus het vir hulle die mag gegee om selfs duiwels in Sy Naam uit te dryf.  Hoekom kon hulle dit nie altyd regkry nie?

- Jesus het die volgende gese in Mar 16:17,18 - "En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.."  BETEKEN DAT ALLE GELOWIGES HIERDIE DINGE SAL ERVAAR?  .


(Mat 17:19)  Toe kom die dissipels na Jesus afsonderlik en sê: Waarom kon ons hom nie uitdryf nie?


(Mat 17:20)  En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ‘n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie. (Mat 17:21)  Maar hierdie geslag gaan nie uit behalwe deur gebed en vas nie.

Dus, al gee die Here vir ons die mag om in Sy Naam "dinge" te doen, beteken dit nie dat ons almal dit outomaties kan doen nie!  Die Christen moet die nodige GELOOF he, maar hoe kry ons daardie nodige geloof?  Jesus gee vir ons die antwoord in v. 21:  GEBED en VAS. ( Sommige vertalings laat die woord "vas" weg).  Dit lyk of ons nie die enigstes is wat sukkel met "geloof" kwessies nie - selfs die dissipels het daarmee gesukkel.  Jesus het baie met hulle gesels oor "geloof" sodat hulle verstaan wat geloof werklik beteken.  In hierdie geval het Hy vir hulle 'n belangrike les geleer, en dit is die belangrikheid van "gebed en vas".  Die Christen se aandag moet nie wees op die feit "dat hy kan wonderwerke doen of duiwels uitdryf nie", maar die aandag moet wees op 
"die pad van godsaligheid".  Jesus het ook hierdie punt duidelik gemaak toe die 70 terugkom in opgewondenheid omadat selfs die duiwels hulle aan hul onderwerp het in die Naam van Jesus - In Luk 10:20 antwoord Jesus hulle as volg:  "Maar julle moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is nie, maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskrywe is". Wanneer die Christen uitgestuur word, is dit nie om homself te verryk nie, maar om ander na die Here te trek - basies OM SY WIL TE DOEN. Dit is dan ook die rede waarom Hy vir ons gawes gee deur Sy Gees - dit is nie soos 'n "mag" wat ons verkry om onsself te verryk nie, maar dit is om ander te stig en na Hom te trek - basies "om Sy wil te doen". (1 Kor. 12:7-11) " Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is. Want aan die een word deur die Gees ‘n woord van wysheid gegee, en aan die ander ‘n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; aan ‘n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; aan ‘n ander werkinge van kragte, aan ‘n ander profesie, aan ‘n ander onderskeiding van die geeste, aan ‘n ander allerhande tale, aan ‘n ander uitleg van tale. Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil" - nie soos "ons wil" NIE!


Jesus het self die volgende opmerking gemaak: Joh 5:30 - "Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het".


(Mat 12:50)  "Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder".

Ons het GEBED en VAS nodig om die wil van die Here te ken - so iemand word dan deur die Heilige Gees gelei in verskillende gawes - so 'n persoon het dan ook outomaties "genoeg" geloof, omdat hy die wil van die Here ken.  Jesus het vir ons 'n goeie vb. gestel van hoe gereeld ons moet BID.  Die eerste gemeentes het ook daardie vb. gestel (Hand. 1:14; Hand. 2:42) - (eensgesindheid kom ook saam met gebed).

Baie gelowiges ignoreer die belangrikheid van "vas", maar kom ons kyk wat het Jesus daaroor gese:
 (Luk 5:33) " Toe sê hulle vir Hom: Waarom vas die dissipels van Johannes dikwels en doen gebede; so ook dié van die Fariseërs; maar u dissipels eet en drink?(Luk 5:34)  En Hy sê vir hulle: Kan julle die bruilofsgaste dan laat vas solank as die bruidegom by hulle is?(Luk 5:35)  Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word; dan sal hulle vas, in daardie dae".

Geloof kom nie outomaties nie, tensy iemand die wil van die Here ken 
- daarvoor het hy gebed en vas nodig.









No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.