Saturday, January 12, 2013

Besprekingsvrae 12-17 jariges: MEER GELOOF

-LEES Luk. 17:5
In die skrif vra die dissipels vir "meer geloof"

-Kyk wat anders  sê die Skrif oor "meer" of "minder" geloof:

(Rom 12:3)  Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.
(Luk 17:6)  En die Here sê: As julle geloof gehad het soos ‘n mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê: Word ontwortel en in die see geplant—en hy sou julle gehoorsaam wees.
(Mat 8:10)  Toe Jesus dit hoor, het Hy Hom verwonder en aan sy volgelinge gesê: Voorwaar Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so ‘n groot geloof nie gevind nie.
(Mat 9:29)  Toe raak Hy hulle oë aan en sê: Laat dit vir julle wees volgens julle geloof.

(Mat 17:19)  Toe kom die dissipels na Jesus afsonderlik en sê: Waarom kon ons hom nie uitdryf nie?
(Mat 17:20)  En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ‘n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie.

(Mar 4:40)  Toe sê Hy vir hulle: Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie?
(Luk 18:8)  Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?
(Act 11:24)  want hy was ‘n goeie man en vol van die Heilige Gees en geloof; en ‘n aansienlike skare is aan die Here toegebring.


-VRAAG:  Dit  is dus duidelik dat mense verskillende mates van geloof het en lyk of sekere mense "MEER GELOOF HET AS ANDER"; dit is ook duidelik dat die Here selfs wonderwerke deur ons kan doen, sou ons die geloof he! 
Die vraag is nou:  hoe kry ons "meer geloof"?  
Wat beteken dit dat sekere mense 'n ander maat van geloof ontvang?

Eerstens moet ons kyk na die antwoord wat Jesus vir die dissipels gegee het in Luk. 17.  Hy't begin met die volgende woorde:  (:6)  "As julle geloof gehad het soos ‘n mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê: Word ontwortel en in die see geplant—en hy sou julle gehoorsaam wees" - in die eerste plek moet ons dus nie gefokus wees op "meer" geloof nie, maar moet verstaan wat geloof werklik beteken, want as dit die geval is dat ons slegs geloof nodig het "soos 'n mosterdsaad" om 'n moerbeiboom te ontwortel, behoort hierdie vir baie Christene moontlik te wees om te doen, of is dit so?

Min mense verstaan regtig wat geloof beteken.
Baie sien geloof as "positief dink", m.a.w. glo dat iets sal gebeur, en dit sal gebeur.  Ander glo weer dat hulle woorde soveel krag dra dat, sou hulle dit uitspreek wat moet gebeur, dit sal gebeur, maar klop dit met wat die Skrif se? Kom ons lees hoe Jesus dit verduidelik het in Luk. 17: 
 (Luk 17:7) "En wie is daar van julle wat ‘n dienskneg het wat ploeg of vee oppas, en as hy inkom van die veld vir hom sal sê: Kom dadelik hier aan tafel? (Luk 17:8)  Sal hy nie eerder vir hom sê nie: Maak vir my die aandete klaar en omgord jou en bedien my totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink? (Luk 17:9)  Bedank hy daardie dienskneg, omdat hy gedoen het wat hom beveel is? Ek glo nie. (Luk 17:10)  So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen".  
Hierdie antwoord van die Here, is NIE so heeltemal wat meeste sou verwag Jesus se antwoord sou wees nie! Wat het "dienskneg" te doen met "geloof"?  


As ons gaan kyk na wat "geloof" self werklik is, (Hebr. 11:1-"Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie"), dan merk ons dat dit iets is wat van binne kom - VERTROUE, HOOP...  maar wat het dit te doen met "dienskneg"?  
Kom ons kyk na 'n vb. van 'n vertrouensverhouding in 'n opset van werk en waar iemand vir 'n baas werk: dit is altyd maklik om te sien wie die is wat "vertroue" in hulle base het. 'n Werker wat reken dat hyself beter besluite neem as die baas, of dat hy meer kennis het, gaan nie altyd die baas onderdanig wees nie en ook kronies verskil van hom.  Daar is dus nie die nodige vertroue nie.  Kyk ons na 'n ouer-kind verhouding waar die kind glo dat sy pa of ma minder weet as sy onderwyser of as wat die wereld vir hom vertel, dan is die ook 'n tipiese geval waar die kind in opstand kom teen die ouer se gesag, m.a.w. daar is nie vertroue nie.  Vertroue en hoop is dus gegrond op ons persepsie van 'n ander en word bewys deur die "ondergeskik stel van", of " 'n dienskneg wees van".  Iemand stel homself ondergeskik aan sy leier omdat hy sy leier vertrou.  'n Kind stel homself ondergeskik aan 'n ouer, omdat hy sy ouer vertrou.  Waar daar dus 'n "opstand" probleem is, is daar ook 'n probleem met vertroue. 'n Kind kan nou nie juis 'n vader vertrou wat onregverdig is nie!  'n Werker kan nie 'n baas vertrou wat skelm is nie!  
As iemand iemand anders ten volle vertrou, sal hy ook onderdanig wees ten spyte van die feit van of hy met hom saamstem of nie!   Dit het dus te doen met ons persepsie van die ander persoon. Sien ons Jesus as ons Here en Koning?  Sien ons vir God as ons Vader?  Is ons onderdanig en gehoorsaam aan Hom soos 'n kind aan 'n wereldse vader?   As ons persepsie reg is, dan wil ons Sy dienskneg wees, m.a.w. Hom vertrou - dit is nie iets wat opgewek word nie, maar 'n toestand van die hart. Geen wonder Jesus het gesê: "Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!" - Matt. 18:3


Baie mense soek "geloof" vir die verkeerde redes, m.a.w. vir wat hulle uit die "deal" kan kry, dus om "wonderwerke te kan doen", soos Simon of om die Here se arm te draai om te kry wat hulle begeer.  Dit is juis waarna Jesus verwys in v.7-10!  ((Luk 17:10)  "So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen").  As iemand die Here dien bloot vir wat hy uit die deal kan kry, dan is sy persepsie verkeerd.  Dan gaan dit oor om "homself groter te maak".  Die lewe gaan nie regtig oor "wat iemand vermag" of "verdien" nie, maar eerder oor "om te dien". Geloof is dus nie "positiewe denke" NIE;  ook nie "krag in woorde" nie, maar gaan oor "om die Here te dien", m.a.w. om Sy wil uit te voer.  

"MEER GELOOF" BETEKEN DAT IEMAND "DIE HERE DIEN" SOOS "ONVERDIENSTELIKE DIENSKNEGTE", absoluut gehoorsaam en ondergeskik aan Hom (soos 'n kind)-dan gaan dit oor "wat die Here wil doen", nie "wat jy wil he moet gebeur nie".
Omdat meeste mense met 'n verkeerde persepsie grootword dat die lewe gaan oor vermag of verdien, is dit vir hulle moeilik om "te dien" - dit is hoekom mense altyd wil probeer uitstyg bo ander, sodat hulle nie hoef "te dien" nie.  Dit is hoekom Eva van die boom van kennis van goed en kwaad geeet het, sodat sy "soos God" kon wees - die begeerte na "groter of beter wees" was altyd dit wat die mens laat faal het. 


Is jou persepsie van die Here as volg?: 
- dat Hy in beheer is van jou lewe en die lot van jou lewe bepaal en dat jy moet lewe volgens Sy wil?
- dat die mens, as deel van Sy skepping, Hom moet eer (hoe kan die skepping groter wees as die Skepper!)?
- dat die Here nie beskryf word deur die mens nie, maar Hy die een is wat altyd was, is, en sal wees en Homself beskryf aan die mens soos Hy wil?
- dat die mens, as deel van Sy skepping, Hom moet gehoorsaam en dat die Here van hom kan verwag wat Hy ookal wil en met hom doen, wat Hy ookal wil?

Wanneer iemand leer om die Here te dien en Hom gehoorsaam soos 'n dienskneg sonder om verdienste te verwag, dan kom "meer geloof" outomaties. Dit hoef nie opgewek te word nie, maar deur ondergeskiktheid aan die Here, leer die gelowige wat die wil van die Here is en kan enige iets doen, omdat hy optree volgens die wil van die Here en die Here Sy gawes deur hom werk soos Hy wil.  Die wat werklik deur die Here gebruik word, is gewoonlik nie die wat "kragtig" voorkom nie, maar eintlik die wat swak is en op die Here vertrou, m.a.w. die GEHOORSAMES en die wat hulleself  ondergeskik stel aan die Here - die DIENSKNEGTE.


  
 So werk die Here ook net Sy gawes deur die wat bloot gehoorsaam is! - deur die wat DIENSKNEGTE is (sonder om iets te wil verdien).

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.